As ma van 5 het ek nooit kon dink dat ek met skeidingsangs op die uiterste vlak te doen sou kry nie, met my 4de kind. Ek is mos nou al 'n gesoute Graad 1 ma! Wel ek moet bieg hierdie ding het my heel onkant betrap en hierdie gesoute ma het meer soos 'n groentjie gevoel!
Die eerste paar dae in Graad 1 het goed gegaan, maar na die nuutheid afgewater het, het die krake begin wys. Elke aand het sy al begin voorbrand maak vir die volgende dag. "Mamma ek wil nie more skool toe gaan nie. Ek mis vir Mamma te veel." So graag as wat jou hart vir jou sê om jou kind by die huis te los, soveel meer sê jou brein, dat dit nie kan gebeur nie. Wat van die dag na more en die dag daarna? Jy skep net nog 'n groter probleem.
In die oggend oppad skool toe, dan begin sy al sê dat sy nie wil skool toe gaan nie. By die skool staan jy met jou bleek kind voor die klas. Sy hang aan jou, kyk na niemand, groet niemand nie..... ons wag vir die klok om te lui!!!!! Dìe moment.....die 'trigger'. Dadelik gaan haar vingers in haar mond, asof sy regreseer na haar baba-dae. Ons staan heel agter in die ry. Aan die begin was ons so drie ouers, maar nou is ons die laastes wat oorgebly het.
Aanvanklik het haar onderwyseres eers met 'n streng benadering haar by my afgeskeur! Dit het nie gewerk nie! My kind het met AL! haar krag die oorgee probeer stop. My hart was teen die tyd al in 1000 stukkies. Die juffrou ook.
'n Uur nadat ek haar by die klas gelos het, het sy nogsteeds gehuil. Dit was duidelik dat 'n plan gemaak moes word. Moet ons haar uit die skool haal? Dalk professionele raad inkry? Haar dalk na 'n ander klas skuif? Wat nou?
Tipies wat gebeur wanneer jou kind skeidingsangs ervaar. Sy het so uitgesien na die fietswedren, maar die moment wat sy haar ma moes los was net te groot. |
Ek en haar onderwyseres het 'n Lang gesprek gehad en gekyk hoe ons haar kan help. Dit is Baie belangrik om as 'n span saam te werk en gereeld te kommunikeer. Dit is 'n hoeksteen om op te bou! 'Team work!'
Intussen het ek haar elke oggend eers bietjie met haar Juffrou vriendelik oor koeitjies en kalfies gesels, haar die versekering gegee dat ek haar op 'n spesifieke plek optel die middag. Ek en my man het ook met 'n Sielkundige gaan gesels. Hy het ons goeie raad gegee en as ondersteuning ons en haar Juffrou bygestaan met raad.
'n Vergoeding sisteem met plakker is in die klas ingebring en ons het elke Vrydag die week beloon met 'n roomys. Soms het haar Juffrou vir 'n foto gestuur om te wys hoe oulik sy is en dat sy mooi werk.
Om oor skeidingsangs voor jou kind te praat gee nie skeidingsangs nie! Inteendeel wanneer jy met haar praat daaroor of 'n storie in klastyd of by die huis lees hieroor, is dit asof daar iets wat jou kind self nie verstaan nie, verstaanbaar gemaak word.
Na weke van DIESELFDE roetine, met DIESELFDE versekerings soos waar ek haar kry die middag en hoe lief ek vir haar is asook hoe trots ek op haar is, het ons op die punt gekom waar ons nou vir Juffrou by die deur ontmoed en vir mamma totsiens sê en nie meer in die klas nie.
Party dae was bietjie makliker, terwyl ander weer sonder enige rede moeiliker was. Na maande se harde werk en KONSEKWENTE versekering het dit meer dae al beter as slegter gegaan.
Die situasie by die skool het 100% verbeter teenoor die paar maande voor dit. Die skeidingsangs was egter nog nie weg nie! Dit het sy kop nou op ander plekke uitgesteek nl. by maats se partytjie en op die netbalbaan!
Gelukkig het die 3 weke breuk van die Junie/Julie vakansie haar so laat herstel dat sy as 'n nuwe kindjie terug skool toe is. Op 24 Augustus kon ek die eerste keer haar by die skool se hek 'n soentjie gee en sien hoe sy saam met haar sussie na haar klas toe stap!!!!!
My hart jubel! Aanhouer wen!
Ek is super trots op my Bella kind!